Die roete neem die reisiger vanaf Simonstad na Muizenberg langs die Valsbaaise kusstrook .

Die Strand / Kus roete is ’n baie gewilde roete vir sowel binnelandse vakansie besoekers aan Kaapstad sowel as die lokale plaaslike besoekers van die noordelike Kaapse voorstede, ook bekend as die boerewors gordyn!( Dit is ‘n verwysing na die baie Afrikaans sprekendes wat in die noordelike voorstede van Kaapstad woon. Mens sal jouself kan vergewe indien jy jouself vir ‘n oomblik verbeel jy is dan in Pretoria. Ja Afrikaners is lief vir braai en vir boerewors. Net in Suid-afrika sal mens ‘n Nataniel hê as ambasadeur van Checkers se kampioen boerewors!) Maar terug by die roete vir eers!

 Aangesien die paaie veral oor naweke en tydens spitsverkeer druk besig is moet mens jou tyd van reis mooi beplan. Daar is ook tans padwerke tussen Vishoek en Muizenberg wat blyk tot diep in 2016 sal voortduur. Gelukkig is die uitsig terwyl mens vassit in verkeer die van Valsbaai en nie die Ben Schoeman hoofweg nie! Vroegoggend wanneer mense skole en werk toe ry en laatmiddag wanneer mense huiswaarts keer is die paaie natuurlik druk besig. Dan is dit dalk beter om eerder verder te kuier in een van die vele restaurante wat die area bied. Dit is dan natuurlik as daar eers ooreengekom is op wie die aangewysde bestuurder sal wees indien alkohol genuttig gaan word. Dit is nie die moeite werd om kanse te waag nie. (Daar is heelwat taxi’s sowel as mense wat teen ‘n billike fooi jou motor vir jou huis toe sal bestuur soos Scooters angels .) ‘n Goeie alternatief terug vanaf Muizenberg na Simonstad is via Ou Kaapse Weg of via Boyes Drive na Kalk Baai. Boyes Drive bied ongelooflike uitsigte oor Valsbaai, die Kaapse vlakte en die woonbuurte van Constantia en Tokai. Daar is ook die baie interessante Shark spotters wat mens teekom wie bo op Boyes drive op die uitkyk is vir die Groot wit haaie van Valsbaai.

Valsbaai is wêreldwyd bekend vir die groot aantal groot wit haaie wat hier voorkom. In Simonstad is daar ‘n aantal operateurs soos, www.apexpredators,co.za wie mens kan neem om saam met die haaie te kan duik, natuurlik in ‘n staal hok! Hierdie haaie word aangetrek deur die groot aantal robbe wat hier in Valsbaai voorkom veral rondom Seal Island waar menige dokumenter oor die Groot wit haaie al verfilm is. (Seal Island is sigbaar vanaf Boyes drive.) ‘n Interessante feit is dat die robbe weer op hul beurt jag maak op die pikkewyne met die hoofdoel om die vol maag van die pikkewyn oop te skeur op soek na die vis wat die pikkewyne weer gaan jag het. Die Pikkewyn Kolonie van Boulders Strand in Simonstad  is een van slegs twee broei Kolonies van die Pikkewyne in afrika. Maak nie ‘n fout nie. Hierdie is steeds wilde afrika, die naaste vasteland vanaf antartika. Voël besigtiging in en rondom  Kaapstad is ‘n gewilde aktiwiteit veral deur oorsese besoekers wie die dienste van mense soos www. africabirdingtours.com gebruik om voëls te gaan kyk. Die boland en wynlande in die binneland so uur en ‘n half of wat se reis is juis die tuiste van ons land se nasionale voël, die Bloukraan voël. Dit is ook ‘n dag se reis om oorweeg te word vanaf Simonstad. Terug na hierdie die kus / strand roete:

Hierdie roete neem mens eerstens na Glencairn waar die gewilde Dixies restaurant is wat ‘n lekker ontbyt bedien met ‘n amper onverbeterlike uitsig oor Valsbaai. Glencairn is ook ‘n gewilde swemstrand , veral in die warm Kaapse somermaande wanneer die ander strande te besig raak. Dit is ook die tuiste van ‘n lekker kuier kroeg Stoep and Swing waar daar na sport soos rugby op die groot skerm gekyk kan word. Die Bay Cafe bedien ook goeie kos met Valsbaai in die agtergrond om die maaltyd te vervolmaak. Besoek ook gerus Cafe Collectables langsaan vir ‘n groot verskeidenheid van baie interresante oudhede. Glencairn strand het ook seegety poele wat gewild is onder oud en jonk.

 

Foto bo:  Dixie’s by Glen Cairn is die ideale plek om lekker te eet , wyl ’n onverbeterlike 180 grade see uitsig oor Valsbaai geniet word, waar na al die aktiwiteite van mens en natuur in Valsbaai gekyk kan word. Hier word ure sommer vinnig minute. Ontbyt en Koffie by Dixies is een van my gunsteling doen dinge om te doen terwyl baie ander restaurante in die omgewing se deure nog nie oop is nie. As na die foto gekyk word kan gesien word hoekom Dixies ’n gunsteling onder  plaaslike inwoners sowel as besoekers is.

 

Foto bo: Die Stoep van Stoep en Swing met die Bay Bay Cafe en Glen Lodge reg langsaan. Glencairn Strand is in die agtergrond.

Na Glencairn reis mens langs die kus en die treinspoor tot by Vishoek. (Trein ry is beslis ‘n gewilde alternatief om te oorweeg om tussen Simonstad en Muizenberg te reis.) Op Sondae is die toeriste Stoomlokotief tussen Kaapstad en Simonstad baie gewild. Sien Metrorail se webwerf vir meer besonderhede hier. Vrouens en kinders moet liefs nie alleen per trein reis na sononder nie. Ongelukkig was daar al ‘n paar slegte negatiewe voorvalle. Vermy ook liewers spitstye wanneer die treine vol raak, andersins is die treine veilig genoeg en ‘n goeie alternatief om te oorweeg as reismiddel.

Vishoek is ook ‘n gewilde swemstrand met haai uitsluitingsnette wat gedurende die vakansie seisoen ontplooi word om haaie uit te hou. Daar was al meer as een haai aanval in die onlangse verlede. Die laaste voorval was in 2011 toe ‘n swemmer die Haai waarnemers se waarskuwing ignoreer het en hy sy been verloor het. Indien u tot die dood toe bang is vir haaie is Vishoek strand die strand om te gebruik maar dan binne die uitsluitings nette. Vishoek het ook ’n baie aktiewe en mededingende Strand Lewensreddings Klub, Fish Hoek surf livesaving club. Kayak en Ski roei is ‘n gewilde sport wat ook op Vishoek  beoefen word en ook wanneer die Kaapse dokter waai soos net hy kan is “Kitesurfing” gewild. (Wanneer die Suidooster dae aaneen sy humeur uitwoed , waai dit alle lugbesoedeling oor die Kaapse vlaktes en die Kaapse metropool weg en daarom word na die wind as die Kaapse dokter verwys.)

Vishoek Haai aanval Video:

Gewilde restaurante in Vishoek sluit in Bayside op die strand, www.barracudas.co.za en die Spur in Vishoek.

Net verby vishoek kry mens Clovelley op die draai waar die baie gewilde Clovelly Buiteklub is waar Gholf gespeel kan word. (Ander gewilde gholfbane in die nabye omgewing is Westlake Buiteklub en Steenberg wat van die mees gewildste Gholfbane in Suid-Afrika is.) 

As jy nie reeds dors of honger is nie sal jy honger en dors word wanneer jy die pragtige Kalkbaai binnegaan. Gelukkig is daar ‘n menigte restaurante om van te kies. Van die meer eksklusiewe www.harbourhouse.co.za tot Outspan waar die lekkerste Geelstert buite op ‘n oop vuur gebraai word. Ook Kalkies en Lucky Fish is baie gewild vir hulle vars vis en skyfies. Trokke vol aartappels word weekliks ingery. Daar is waarskynlik nie ‘n plek in Suid-Afrika waar die Vis en skyfies varser is nie. Veral oor naweke is die plekke uiters gewild onder plaaslike inwoners van Kaapstad. Wie se voorbeeld is beter om te volg as die van die plaaslike inwoners. Kalkbaai is gebou rondom ‘n werkende hawe. Daar kan vars vis gekoop word vanaf die plaaslike vis smouse. Die hawe muur is ook gewild vir mense wie daar wil visvang. ‘n Baie lekker en gewilde tydverdryf is tjokka hengel op Kalkbaai se hawemuur met klein goedkoop visstokkies en kunsaas. In die warm someraande neem die hele familie deel aan die prêt. (Besoek www.greatwhitesport.co.za  in Vishoek vir jou tjokka hengel gery of www.eddiesgasandtackle.co.za verder aan in Tokai. As mens mooi vra kry jy dalk ook ‘n bietjie gratis advies. Vrouens hou veral baie van Kalkbaai met sy baie winkels wat allerhande snuisterye en klere verkoop en ook die verskeie kunsgallerye wat hul tuise in Kalkbaai het. Mens kan jou vrou maklik daar vergeet wanneer jy Gholf gaan speel sonder dat daar huismoles gaan wees. Mans word ook makliker oorgesien as hulle ‘n ekstra bier of drie saam vriende wil drink terwyl vrouens inkopies doen. Gewoonlik kuier families lekker saam veral by die www.brassbell.co.za met sy restaurant en kroee feitelik bo op die see. In die aande word daar ook aan die jonger klomp wie hou van lewendige en/of harde musiek se behoeftes voldoen, soms tot ontstigting van die ouer klomp afgetredenes wie van Kalkbaai hul plek van aftrede gemaak het! Klein dorpies sal altyd klein dorpie politiek beleef. Kalkbaai voldoen wel aan die behoeftes van ou en jonk. Die hawe is baie gewild onder fotograwe en spesifiek vir trou foto’s.

Die Brass Bell se gety swempoel met Simonstad en Kaappunt in die verre agtergrond. Besoekers aan die Brass Bell word gereeld verras deur ‘n brandertjie wat hul nat spat deur die vensters wat mens so bietjie te naby aan die see laat voel en soms ly die restaurant erge storm skade wanneer die see baie rof is en dit gepaard gaan met ‘n spring gety. ‘n Ander feit van Kalk Baai en omgewing is dat die water dreinering sisteme baie oud is en dit is die rede vir die padwerke wat nou en reeds vir die afgelope paar jaar in Kalk Baai en omgewing aan die gang is. Kalk Baai se strate word gevloed tydens swaar reëns wat van die berg af vloei . Hopenlik staan die padwerke nou einde se kant toe.

Dis eintlik net in die warm somermaande dat mense in die gety poele swem. By die Brass Bell is dit reg deur die jaar dalk iemand wie te veel gekuier het. Dit help darem vir nugter word, so hoor ek.

Foto : Dalebrook getypool in Kalk Baai net voor mens St James binnegaan op pad na Muizenberg

As daar nog Petrol in jou tenk is, joune nie jou motor s’n, reis ons verder na St James. Net voor St James kry mens Dalebrook strand en seegety swempoel wat ook baie gewild is in die warm somermaande. Sommige van die oorsese besoekers dink soms hul is in Europa en laat waai met die klere. So as dit jou ding is kan jy dalk die familie daarheen neem as daar op strand toe gaan aangedring word.

St James is speelplek van die rykes. Blykbaar besit Bruce Willis ‘n vakansie huis iewers in St James. Watter ander bekendes ook daar huise besit sal ons net kan raai. Bekendes beskerm hul privaatheid om verstaanbare redes. Sodra jy verby Bruce Willis is bereik die geskiedkundige gedenkteken van die slag van Muizenberg, 1795 toe Britanje Suid-afrika binnegeval het.

Onlangs is daar weer kanon koeëls opgetel toe daar aan die paaie en riool infrastruktuur van die hoof pad gewerk is. ‘n Entjie verder verby Muizenberg kry mens die industriele gebied genaamd Retreat, so genoem omrede die boere daarheen teruggetrek het na hul vergeefse poging om die Engelse inval te stuit

Daar is beslis baie geskiedenis langs hierdie stukkie kus. Daar is Rhodes Cottage, die SAPS Museum, Die ou poskantoor.

Muizenberg Strand is ‘n baie gewilde swem en branderplankry strand. Aangesien die water aanvanklik relatief baie vlakker is en daar baie sand in die see is, iets waarvoor Groot Wit haaie nie lief voor is nie is dit redelik veilig om daar te swem maar wees gewaarsku in die dieper waters speel jy in hul omgewing en kan jy vir ‘n prooi misken word. Jou kanse is baie skraal om deur ‘n Groot Wit Haai na die hernamaals gelei te word maar steeds die blote gedagte daaraan is genoeg om my af te skrik.

Muizenberg is ‘n pragtge strand met eindelose kilometers wat strandlangs gestap kan word maar wees gewaarsku om nie te ver alleen gaan stap nie. Mense word beroof of aangeval wie hulself aleen op van die strande begewe. Selfs volwasse mans wat wil visvang waag dit nie in klein groupies alleen en dan nie sonder wapens nie. 

Daar is branderplankry winkels soos www.surfshack.co.za waar branderplanke en natpakke (beskerming teen die koue oseaan) gehuur kan word. Daar word ook branderplankry lesse aangebied. Jy sal verskoon word as jy jouself verbeel jy is iewers langs die Natalse kus met almal wat daar op die strand ontspan, branderplank ry of swem. Daar is ook eetplekkies waar vis en skyfies gekoop kan word of as jy meer honger is, is daar Tigers Milk, Knead Bakery, Primi Piati of Gaslights Cafe. Oros Boros is ‘n gewilde Tapas Restaurant in Muizenberg wat saans gewild is en net so ook die bekende spesialis restaurant Carla’s Prawns wie in garnale spesialiseer.

Foto : Kinders wat Branderplank lesse kry op Muizenberg Strand . www.surfshack.co.za

Foto: Muizenberg Strand - John Hishin - www.drumbeatphotography.co.za

Die kenmerkende kleurvolle  hout huisies op Muizenberg Strand wat vanaf die Kaapstadse Stadraad gehuur kan word sodat jy jou strandstoele, sambrele, branderplanke en ander strandbenodighede daar kan stoor in plaas van om dit op en af te karwei per motor.

Hierdie lekker gewilde roete met sy baie restaurant en strande is beslis een van die moet dinge om te doen wanneer Kaapstad besoek word.Dis ‘n spesiale deel van Kaapstad waar die mense nie so erg Juppie is soos aan die ander kant van die berg met rykmansplekke soos Kampsbaai of Clifton nie. Mense luister nie na Laurika Rauch se Boubergstrand en dink hulle is cooler as ekke nie. Darem is die wêreld nie Zef soos die antwoord nie. Onthou die alternatiewe roete van terug bestuur oor Boyes Drive of oor Ou Kaapse Weg. Die beste idée vanaf Simonstad is egter met die trein. Dit is nou as die trein tot by Simonstad werk. Soms ry die treine net tot op Vishoek as daar aan die treisnpore gewerk word. Ons hoop met die skrywe hiervan dat dit ‘n tussentydse verskynsel is en dat die treine weer tot op Simonstad sal loop. Ons weet nie. Hierdie is Afrika. Onvoorspelbaar, erg romanties en soms, nee meestal baie stadig, veral ons geliefde moederstad, Slaapstad.